WELKOM BY VLU | WAU MPUMALANGA
Die VLU is ‘n organisasie wat haar beywer om aan die vrou geleenthede te bied om haarself te verryk op alle terreine van vrouwees sodat sy ‘n bydrae kan lewer tot haar gesin en die gemeenskap. Die organisasie is nie-polities, nie-sektaries, tweetalig, en oop vir alle vroue bo 16 jaar tot 116 jaar!
|
The WAU is an educational organisation within which women with the same values are offered the opportunity to contribute and have a real impact on the development of our country, making use of quality programs to increase knowledge and to develop skills. The organisation is non-political, non-sectarian, bilingual and open to women from the age of 16-116 years.
|
In ons organisasie is daar soveel geleenthede omdie tema " Hef "n Vrou op" suksesvol uit te leef. Elkeen van ons kan net op èèn vrou fokus om dit dit maak werk! Ons kan mekaar baie vaardighede leer en ons kan talente deel, maar die belangrikste deel van opheffing is deur ‘n ander vrou te aanvaar in haar unieke vrouwees en die mooi in haar raak te sien. Ons kan nie die wêreld omkeer nie, maar ons kan èèn vrou se lewe aanraak en so kan ons ‘n verskil maak in haar klein kringetjie sodat sy diè verskil in haar huisgesin en gemeenskap kan wees! Geniet 2018 en inspireer, verryk en vervul mekaar se lewens!
STREKE VLU Mpumalanga is in ses streke verdeel: Malieveld (Laeveld omgewing), Suikerbos (Lydenburg omgewing), Carpe Diem (Witbank omgewing), Kosmos (Middelburg omgewing), Hoëveld (Secunda omgewing) Tambuki (Ermelo omgewing). |
Loer gerus op jou streek se bladsy onder die "STREEK INLIGTING" skakel of volg ons op ons Facebook Bladsy. Malieveld: VLU Malieveldstreek Suikerbos: VLU Suikerbosstreek Carpe Diem: VLU Carpe-Diem Streek Mpumalanga Kosmos: VLU Kosmosstreek Hoeveld: VLU Hoeveldstreek Tambuki: Tambuki Streek VLU |
Skrywes uit die pen van die President17 Junie 2020
Skrywe in verband met Covid-19 regulasie Liewe VLUM-Vriendinne Ek hoop en vertrou dat elkeen nog geseënd is met ‘n positiewe gemoed en goeie gesondheid. Hierdie bibberweer laat my terug verlang na my ouma se warm kombuis, haar koolstoof met die geur van pannekoek, kaneel en die immer moerkoffie. Ons lewe in ‘wonderland’ deesdae - ongelukkig nie die sprokie van ‘Alice in Wonderland’ nie, maar wonder van dag tot dag oor ‘n klomp hangende onsekerhede. Ons as Uitvoerende Bestuur moes die onaangename besluit neem om VLUM-Kongres uit te stel na 2021. In ons Grondwet: Punt 8 Uitvoerende Bestuur 8.5 Bevoegdhede en verantwoordelikhede: 8.5.1 Die uitvoerende bestuur is aan die kongres verantwoordelik vir die bestuur van die Organisasie, vir die administrasie van die fondse van die organisasie en vir die toepassing van die beleid en uitvoering van opdragte waaroor op die jaarkongres besluit word. Ons het reeds in 2019 (toe Covid nog net ‘n vreemde woord was) baie opgewonde begin beplan aan ons 25-ste VLUM-Kongres. Ons het met Olifants River Lodge asook die kunstenaars onderhandel, kontrakte is aangegaan en deposito’s is betaal… soos die norm van elke jaar. Teen einde Julie moet ons reeds 85% van gelde oorbetaal wat nog uitstaande is. Met ‘n groot skok spring ons Covid-19 nie vry nie. Ons het gelukkig ‘n ‘Plan B’ – die Lente skool datum, maar met verloop van tyd besef ons dat indien ons ‘n tweede maal moet uitstel ons ‘nuwe’ kontrakte nie voorsiening maak vir Covid-19 nie. Met ons sperdatum van kongresbesprekings het ons op ‘n totaal van 28 takke en 140 lede – ingesluit streekvoorsitsters en gaste – gestaan, met geen waarborg dat lede wat bespreek het wel gaan bywoon nie, of dat ons skielik nog 100 besprekings gaan ontvang nie. Ons borg het ook onttrek as gevolg van die finansiële Covid-19 implikasies, baie lede se gades het hulle werke verloor, of salarisse is drasties gesny. Persone 60 jaar en ouer mag nog steeds nie na hulle werksplek terugkeer nie. Ons het besef dat die meerderheid van ons lede – asook sommige UB lede- ook 50 jaar of ouer is. Volgens sacoronavirus.co.za se statistiek is die meeste sterftegevalle in ouderdom 50-59jaar wat 24.6% en 60-69jaar wat 27% van die geheel uitmaak. Kyk mooi na julleself en families asseblief. Elke lewe is kosbaar. Ons het vergadering gehou en die Uitvoerende Bestuur het besluit om VLUM-Fondse te beskerm, ons ‘n besluit dringend moet neem en die reeds betaalde gelde vir 2020 se kongres met ‘n addendum - wat voorsiening maak vir Covid-19 pandemie - uit te stel na 2021. Ons sit ook met die uitdaging van skoolkwartale wat heelwat anders lyk in 2021 as in vorige jare. Ons volgende uitdaging - Olifants River Lodge se besprekings van troues en ander instansies se konferensies en kongresse wat reeds oorloop van 2020 na 2021. Niemand van ons kan met sekerheid sê wat die regering se nuwe reëls en regulasies oor ‘n week of ‘n maand gaan wees nie. VLUM Grondwet Afdeling A Sentrale Organisasie Punt 7. JAARKONGRES 7.1 ‘n Kongres word jaarliks gehou. Hierdie jaar is buitengewone omstandighede, wat deur die regering ingestel is naamlik Covid-19 grendeltyd(lockdown). Indien die regering die reëls en regulasies verslap later in die jaar – en vergaderings vir Organisasies met X aantal (kworum volgens VLUM-grondwet) persone word toegelaat- mag die Uitvoerende Bestuur opnuut besin en moontlik ‘n Algemene Jaarvergadering hou, mits ons ‘n kworum kan bymekaar kry. ( Na die staatspresident mnr Cyril Ramaphosa se toespraak op 17 Junie 2020, wag ons vir die nuwe regulasies wat ‘n bepalende rol gaan speel in ons besluitneming vir 2020) Ons onderneem om geen lede se gesondheid in gevaar te stel, venues aan moontlike boetes of vervolging bloot te stel of enige landswette te oortree in die huidige omstandighede nie. Kompetisie Artikels 2021 Gebruik hierdie tyd om die mooiste handwerk ooit te maak- SAVLU-Kongres vind plaas DV Oktober 2021 en VLUM-lede het nou meer as genoeg tyd om hulle mooiste en beste handewerk – verweef met vele gedagtes- voort te bring vir volgende jaar. Nadat ons SAVLU-artikels afgehandel het, is dit tyd vir 2022 se beplanning. Ons is baie opgewonde oor die kompetisie-artikels vir 2022, ek weet elkeen gaan baie daarvan hou en sal graag deelneem. Die inligting volg later. Ledegeld 2021 Die Uitvoerende Bestuur het ook besluit geen verhoging in VLUM-ledegelde vir 2021 nie, dit bly onveranderd op R190 pp per jaar. Communiqué Soos almal reeds gesien het, het ons het ‘n pragtige nuwe Communiqué, in digitale formaat vir lees sommer op ons slimfone, maklik om aan te stuur en ons spaar heelwat op kostes. Ons spogblaadjie kan ook op ons nuwe webwerf gelees word. In die Communiqué is ook ‘hot links’ wat jou dadelik na jou tak/streek se FB sal neem. Besoek ons splinternuwe webblad Ons webblad het ook nou ‘n eie domein met ons nuwe webadres as volg: www.vlumpumalanga.org Besoek asseblief die webblad, klik net op die ‘link’ hierbo. Die ouer weergawe van ons handleidings is op die webwerf beskikbaar,vinnng om af te laai en oop te maak. Baie dankie aan Mev Elsie Coetzee vir haar volgehoue harde werk en passie om ons webwerf op datum te hou. OJA Kompetisie Oja-Kompetisie staan oor totdat die ‘lockdown’ opgehef is, die kompetisie is slegs vir VLU-Mpumalanga lede. Hoëveldstreek moet ook nog hulle demonstrasies asook bone ontvang. Die pryse is reeds gekoop vir die kookkompetisie, ons is steeds baie opgewonde vir die toekoms met OJA en die nuwe gedaante soja boontjies. Passie vir VLUM VLUM-lede is ongelooflik kreatief en ek geniet julle werksaamhede asook vergaderings wat julle so mooi met ons deel op FB. Julle is voorlopers, julle maak geskiedenis met die inisiatief wat elke tak aan die dag lê! Maskers Baie dankie aan elke persoon wat help maskers maak het, materiaal, rek, ens geskenk het en steeds nog maak asook die lede wat help met die verspreiding na instansies en organisasies wat nie kan bekostig om maskers te koop nie. Elkeen van hierdie persone is goud werd vir ons land se behoud en toekoms. Metson Die meeste streke het goed gebaat uit die verkope van Metson Produkte. Ons werk aan ‘n beter stelsel sodat julle die voordele kan sien. Nou is weer die gulde geleentheid om Metson Produkte te begin bemark met Lente om die draai. My tuin het haar Metson Winterjassie betyds gekry en lyk baie beter as verlede jaar die tyd- ten spyte van die kouer winter. Mev Engela Thompson sal die bedrae bekend maak van elke streek se welkome Metsonsakgeld. SAVLU NUUS Albei die praktiese en teorie-eksamens se datums verskuif na die week van 5-10 Oktober 2020 in Pretoria. Om die teorie-eksamen op ‘n aparte datum te hou veroorsaak net onnodige kostes- en ons is steeds nie seker wanneer ons vrylik mag rondbeweeg nie. Die sluitingsdatum vir inskrywings om te registreer by VLUM vir SAVLU Eksamens is 30 Junie 2020. As daar nog iemand is wat wil inskryf, stuur asseblief dringend jou inligting aan Isobel Geyser. Die SAVLU-Kalenders is gedruk en baie mooi. VLU-Mpumalanga se bestelling is geplaas en ons sorteer die logistiek uit vir aflewering en verspreiding van kalenders. VLU maak my nou eers opgewonde-om weer saam met vriendinne te kan kuier en wersklasse te kan hou. Mekaar se lief en leed te deel. Die DAAR wees vir mekaar, ek mis die drukkies en ja...die teedrink en gesels ...sommer net die ‘koek en tee samesyn’. Mens waardeer eers iets wanneer jy dit ‘verloor’, nooit sal enige een van ons weer kla om ‘n vergadering by te woon nie. My ouma het altyd gesê…My kind, wanneer die swaar op sy heel ergste is, is die uitkoms op sy naaste…. Ons weet nie een wanneer ons hierdie keerpunt gaan bereik nie, maar dat dit wel sal gebeur, is vir seker. My ouma het nooit vir my gejok oor wyshede en waarhede nie, sy was ‘n na-oorlogse-depressietyd-kind en het vele dinge voorspel wat vandag voor my oë gebeur. Sy was ‘n wyse vrou. Bly warm, bly tuis, bly gesond VLUM-Liefde Cindy Coetzee VLU Mpumalanga President |
|