Die Laventelboom is ‘n kleinerige 5-7m hoë boom met digte blare. Die Laventelboom kom voor op klipkoppies en heuwels, selfs op miershope asook langs immergroen bosse. Die bas het ‘n vaalgrys kleur wat soms amper wit vertoon. Die bome kom algemeen voor in KZN, Mpumalanga, Gauteng en Swaziland.
Die blare is blink groen van kleur. Jong blare het ‘n pragtige ligte koper kleur. Gedurende herfs verkleur die boom se blare van ‘n rooi tot ‘n pers kleur , asemrowend mooi. Indien die blare gekneus word kan jy die kenmerkende laventelgeur ruik.
Blomme is klein wit, liggeel en selfs roomkleurig. Die boom blom van Desember tot Maart. Kapsuul vormige sade vorm wat oopbars as dit ryp word, gewoonlik gedurende Maart en Mei.
Die hout is bruin van kleur soms ook donkerpers en medium hard.Die bas en blare van die laventelboom is ‘n gesongde lekkerny vir die swart renoster. Die grys duiker en ander blaarvreter boksoorte en voëls smul gereeld aan die sappige blare . Die blomme trek ook massa insekte wat dan vir die insekvreters van voedsel voorsien.
Die Laventelboom se pragtige herfskleure en aangename geur maak dit ‘n gesogde boom vir die tuinliefhebber wat ook voëls wil lok. Die boom groei ook goed in potte en hou van vol son. Bonsai kwekers beskou die boom as een van hulle gunstelinge. Blare word getrek soos tee en daar word geglo dit help vir bloeiende tandvleise . Blare wat fyngemaak is, in poeiervorm, word aan beeste gegee om dit te ontwurm.
Die Laventelboom groeie 800-1000mm per jaar en is rypsensitief die eerste jaar daarna floreer dit.
WITYSTERHOUTBOOM
‘n Immergroen boom wat tot 30m hoog groei met ‘n ronde kroon en meestal reguit stamme. Blare kom drie-drie aan die punte van die takkies, soos vingers wat uitgesprei is, voor. ‘n Suurlemoen geur kan geruik word as die blare gekneus word, as gevolg van die hoë olie-inhoud in die blare. Die wit ysterhout blom van Desember tot Maart . Die blomme is baie klein met ‘n geelgroen kleur. Die vrugte is 4-6 mm in deursnee, glad en is ryk aan olie. Die kleur verandr na swart as dit ryp word. Vrugte etende voëls is besonder lief vir die vrugte en sade.
Die kleur van die hout is geel tot wit. Die hout is besonder hard, baie elasties en fyn van tekstuur. Die wit ysterhout is immergroen wat floreer in sanderige grond maar ook soms in kleigrong voorkom Die bome kom voor vanaf die kusgebied van die Oos Kaap amper die hele KZN en die Limpopo.
Varke is veral lief om die bas van die bome te eet en asgevolg hiervan ringbas hulle die bome wat daartoe lei dat die bome doodgaan. Omdat die hout so elasties is word dit dikwels gebruik vir handvatsels van gereedskap. Dakkappe gemaak van wit ysterhout , hou besonder lank selfs tot 200 jaar. Die boom is baie gewild op plase weens die digheid veral in kampe vir skaduwee en beskerming vir kleiner spesies.
Die boom kan in verskeie vorms gesnoei word en kan ook in potte geplant word, selfs as potplant in die huis. Onthou net genoeg lig en lug is die wagwoord vir so ‘n binnenshuise plant.
Die WIT YSTERHOUT is beslis ‘n moet vir voëlliefhebbers se tuine omdat dit soveel voëls en insekte lok
Koos van der Merwe, ons kunstenaar van die jaar, werk reeds jare saam met Theo Geyser, as die sanggroep Prophet. Saam het hulle reeds 12 CD’s verygestel en het 7 ATKV Liertoekennings en ‘n SAMA nominasie op hulle kerfstok. Sy bekendste werk is seker Houtkruis vaarvan reeds meer as 300 000 kopië verkoop is Sy nuutste projek is ‘n CD met Leonard Cohen se musiek in Afrikaans, en enige Cohen aanhanger weet dis nie maklik om “die meester” na te maak nie. Koos het dit egter reggekry om die essensie van Cohen se musiek in Afrikaans vas te vang. Hy het ook Cohen se persoonlike toestemming gekry vir die vertalings. Van die vertalings sluit in die gewilde “Dance me to the end of love”, Suzanne en “Famous blue raincoat”. Koos van der Merwe beskik oor ‘n ongelooflike skryfvernuf en ‘n digterlike aanslag en daarom beloof die album om een van vanjaar se gewildste vrystellings te wees. Elbie vd Schyff Skakelbeampte
PRODUK VAN DIE JAAR:
GESKIEDENIS VAN DIE AARTAPPEL Waar kom die aartappel vandaan? Sommige sê Chile, ander Peru en ander beweer dat wilde aartappels nog steeds in Meksiko gevind word. Hoe dit ook al sy... droë aartappels en gedeeltes van die aartappelplant is ontdek in begrafnisvase van mummies aan die kus van Noord-chile. Van Peru is dit deur monnike na Spanje geneem, waar dit Batatas genoem was. Amper dieselfde tyd het dit sy verskyning in Engeland gemaak. Dit was Sir walter Raleigh wat die eerste aartappels op Ierse bodem geplant het. Hy het stellig nooit kon droom watter rol die aartappel nog in die wel en wee van die Ierse nasie sou speel nie.
Dit het egter lank geneem voor die aartappel regtig populr geword het. In daardie tyd van bygeloof en agterdog was almal skrikkerig vir die aartappel. So op ‘n dag, toe Sir Walter se tuinier reken dat die aartappelbessies deeglik ryp is, pluk en eet hy dan ook langtand so ‘n paar daarvan. Nie lank nie of hy was dodelik siek. Op Sir Walter se opdrag is die plant toe wortel en tak, of liewer knol en tak, uitgepluk en verbrand. Skielik ruik die ander tuiniers die heerlikste braaigeur. Wat kan dit wees? Dis aartappels! Versigtig word aan die vet knolle geproe, meer word geëet... dis heerlik! Niemand word siek nie! Toe vind hulle uit dat die verkeerde ent van die aartappelplant geëet is.
Gedurende die tyd van Louis XVl het Frankryk ‘n moeilike tyd deurgemaak. Die ekonomie van die land was haglik, kos was skaars. Die bevolking het die aartappel nie geken en gevolglik nie geëet nie. Hongersnood het die land in die gesig gestaar. Troepe moes die koninklike landerye dag en nag teen diewery bewaak, onder andere ook die aartappellande. Een aand het die troepe nie die aartappellande bewaak nie en die boere het ingeklim en al die koninklike plante gesteel. Dit het floreer in die boere se landerye en van daardie dag was aartappels baie populêr in Frankryk
Tweehonderd jaar moes verloop voordat die aartappel tot sy werklike reg gekom het. Dit word gereken as ‘n groente met besondere voegingswaarde en word tereg genoem “die juweel van die grond”
Dit word nie net vir ‘n verskeidenheid van voedingstowwe wat dit bevat, erken nie, ook vir die houvermoë en die verskeidenheid maniere waarop dit op die tafel voorgesit kan word. Wie kan ‘n lewe indink sonder dié “ gesondheid uit die grond uit”
SKRYWER VAN DIE JAAR Leon van Nierop begin as omroeper-regisseur by die SAUK in 1975 en werk vanaf 1983 as TV-draaiboek-redakteur. Hy onderskei hom as regisseur en skrywer van radio- en TV-reekse soos Wolwedans in die Skemer, Ballade vir ʼn Enkeling, Die Huis in Hertestraat en Stralerjakkers wat ook op kykNET uitgesaai is. Hy het talle jarelange vervolgverhale soos Herberg vir ‘n Vlugteling en Nag van die Strandloper vir radio geskryf. Hy doen rolprentresensies vir GMSA en Pasella op TV 1. Hy het ook 26 romans geskryf waaronder VUURVRETER, (genomineer vir ‘n ATKVeertjie as beste spanningsverhaal) VERKLIKKER, INSOMNIA en SNYDOKTER wat binne 3 weke die vierde posisie op die algehele Suid-Afrikaanse en Internasionale Top 40 boeke behaal het, asook ʼn kabaret, Girly se storie, wat by kunstefeeste opgevoer is. Hy skryf al 38 jaar resensies vir verskeie publikasies soos (sedert 2002) Huisgenoot, You, Drum, Daily Sun, DEKAT, Rapport, Vrouekeur, Lig en Citizen. Hy was vir 2 jaar lank verhaleredakteur van Vrouekeur. Hy was vir 4 jaar lank professor in film en hoof van die FILMSKOOL by TUT en het film vir 20 jaar gedoseer. Hy skryf 2 boeke oor rolprent-waardering: SEEING SENSE ON FILM ANALYSIS en MOVIES MADE EASY. Hy is in 1999 deur die reklamebedryf vereer vir sy bydrae tot die vermaaklikheidswêreld.Hy is vryskut-omroeper en nuusleser asook dramaregisseur en skrywer by RSG. Hy doen MONITOR se rolprentresensies al vir 20 jaar en skryf al 5 jaar lank RSG se jeugvervolgverhaal RATELS. Dit het pas as roman verskyn. Hy was ook mede-vervaardiger en aanbieder van DEKAT TV op SABC 3. Sy jongste roman, die erotiese drama PLESIERENGEL het in Augustus by Tafelberg verskyn. Dit beteken Leon het 4 romans binne 9 maande gepubliseer. Hy wen die Caxton Toekenning twee keer as beste skrywer in 2009 en 2011, en is die naaswenner in die Sanlam radiodrama-skrywerskompetisie vir TWYFELBERG. Hy word deur die ATKV bekroon as beste radio-regisseur in 2010, en wen in 2011 nog ‘n ATKVeertjie vir beste dokumentêre program oor Die Afrikaanse rolprent.Sy TV-reeks oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprent Daar doer in die Fliek is onlangs op kykNET uitgesaai en hy skiet tans aan ‘n vervolg. Sy draaiboek vir WOLWEDANS IN DIE SKEMER is verfilm en die rolprent het R4,3 miljoen verdien. Dit het ook as roman verskyn en is as radioverhaal heropgevoer. Hy skryf tans aan ‘n rolprentdraaiboek en ‘n nuwe roman en het in 2012 verskeie skryfkursusse dwarsdeur die land aan en ook in Namibië. Die rolprentweergawe van WOLWEDANS IN DIE SKEMER is landwyd vir skole voorgeskryf en Leon was behulpsaam met die saamstel van ‘n leergids waarmee hy ook ‘n landwye toer onderneem het. AUG 2013.
Your browser does not support viewing this document. Click here to download the document.